Beeld WesRand
Talle mense het onlangs ’n kranslegging tydens die 27ste herdenking van die Westdene-busramp bygewoon. Twee van die oorlewendes, Elize Venter (42) van Radiokop, wes van Johannesburg, en Chantelle Parker (43), eienaar van ’n motorwerkswinkel in die suide van Johannesburg, was by die seremonie by die dam om die tragiese dag waarin hulle 42 skoolmaats aan die dood moes afstaan te herdenk.
37 kinders het oorleef toe die munisipale dubbeldekbus vol leerlinge van die Hoërskool Vorentoe in Johannesburg op 27 Maart 1985 oor die wal van die Westdene-dam gery en in die water beland het. Venter was destyds 14 jaar oud en ’n st. 8-leerling toe sy op die boonste vlak van die bus op pad huis toe was. “Dié tyd van die jaar is dit baie moeilik. Ek onthou die dag nog baie goed,” vertel sy. Sy was binne-in die bus, onder die water. “Ek was baie gelukkig. Iemand het my uit een van die boonste vensteropenings getrek en na die oppervlak van die dam gebring,” sê sy. “Dit is die eerste keer dat ek hier by die gedenkteken is. Ek gaan bitter min na die begraafplaas toe,” sê sy.
Parker was destyds as 15-jarige in st. 8. “Ek onthou net gedeeltes van daardie dag, want ek het met tye my bewussyn verloor. Daar was baie glas in my onderklere. Ek kon self deur ’n venster uitswem,” sê Parker. “Daar was ’n helse stamp teen my kop. En ek onthou hoe ek baie drukking ervaar het en iets het vir my gesê ek moet hier uitkom. Ek het geweet toe ek uitswem dat daar baie water om my was. Ek het los en vry gevoel,” sê sy. Dit was die eerste keer dat Parker só ’n herdenkingsdiens bywoon. Die ramp het haar geleer om nooit kwaad te gaan slaap nie. “Jy weet nooit wat kan gebeur en jy sien daardie persoon nooit weer nie.”
Chantal Kisoon, Gautengse bestuurder van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, het in haar toespraak by die geleentheid die jeug aangemoedig om versigtig te wees en te alle tye die regte van ander te respekteer.
Die Ahmed Kathrada-stigting het die seremonie ter wille van versoening gereël nadat ’n 24-jarige man, Zama Khumalo, op Facebook rassistiese opmerkings oor die ramp gemaak het.
Khumalo het ook die geleentheid bygewoon en wil nou ’n aktivis teen rassisme word.
0 Comments