Boodskap van Lucas C Viljoen, voormalige Hoof, Vorentoe Hoërskool, Apr 1987 tot Des 2004
Welaan Vriende,
Op Saterdag 28 Maart word die 30e huldigingsdiens gehou vir die 42 kinders wat in die ramp omgekom het.
Ek het eers 2 jaar na die ramp by Vorentoe begin. Die emosies was toe nog rou. Sitplekke is in die klaskamers oopgehou , want dit was of Riaan s’n, André s’n, of Reinette s’n. 42 skoolbankies wat oopgehou is vir die afgestorwendes wat altyd daar gesit het… Die hele skool deur.
Nou hoekom deel ek dit met julle?
Ek het een groot waarheid geleer:
Ons, as mens, kan die kwaliteit van ons lewe bepaal, ons welvaart, ons vriendekring, ons vakansies, ons eie geluk, maar nóóit óóit die lengte van ons lewe nie!
Dit is in die Hande van Ons Hemelse Vader.
Dit is my bede vandag dat ons hierdie gróót waarheid moet besef en dat ons met dankbaarheid en erkentlikheid teenoor ons Hemelse Vader moet lewe met die wete dat ons nog steeds in God se Raadsplan teenwoordig is en dat Hy 42 kinders opgeroep het om vir my en vir jou die waarheid van die lewe te laat onthou.
As ons terugdink aan die ramp moet ons ook kan bid soos die Seun van God; Laat U wil geskied.
Elize Venter, een van die oorlewendes wat self in die bus was, het ‘n webblad www.westdene1985.co.za geplaas.
Blaai gerus daardeur en onthou om te onthou!
Ek sluit ‘n gedig oor die ramp, deur my stiefma, Anna Maria(du Toit) Viljoen hierby in:
Deur Anna Maria Viljoen (nee du Toit)
Paastyd – Hoërskool Vorentoe
Liewe Heer
Meedoënloos het die dood se sens
Gesny in groen koringlande.
Voor U deurboorde voete
Lê ons die kinderlyke neer
En berus ons in U alwyse raad.
Omvou hulle vir ons-
Regering, volk en land-
Met U deurboorde hande.
Liewe Here,
Aan die kruishout
Het U in groter smaad vir ons gehang.
Gebruik hulle dood
En veral U eie
Om ons wat nog lewe met sterker liefdesbande
Aanmekaar te bind.
U heilige naam ter ere.
Wat n pragtige gedig! Ja net God se Wil sal geskied, al is daar n miljoen dokters om m mens en Hy wil Sy blomme pluk sal Hy. Dit is n dag wat ek altyd sal onthou en dank ek my God vir die wat daardie dag terug gegee is aan ons en ook hoe Magtig Hy is. Ek dink terug aan n dag wat so swart was en my laat besef het, soms met seer en ook geluk wat n wonderlike God ons het al verstaan ons nie altyd nie.