Beeld
Kinders wou nie daaroor praat; ouers wou sterk wees
Die dood van ‘n kind is een van die grootste verliese wat ‘n ouer kan ly, sê dr. Marietjie Joubert, kliniese sielkundige van Johannesburg. Sy was destyds verbonde aan die Universiteit van Johannesburg (RAU) se departement sielkunde en het só betrokke geraak by die berading vir kinders wat die Westdene-busramp oorleef het en hul ouers. ‘n Vrou verwag dalk dat haar man voor haar sal sterf, maar ouers verwag dat hul kinders hulle sal oorleef. ” ‘n Kind se toekoms lê nog voor hom of haar. Ouers wil hul kinders sien grootword. Die verlies is nóg groter as die kind op ‘n jong ouderdom sterf.”
Die oorlewendes aan wie Joubert berading gegee het, het op simboliese maniere probeer vertel wat hulle deurgemaak het. ” Die kinders het nie graag direk oor die ongeluk gepraat nie, maar dis algemeen by adolessente dat hulle skaam is om oor emosies te praat. “Een groep wou na die universiteit se akwarium by ons laboratoriums gaan kyk. Later kon ons ‘n vergelyking tref tussen die visse agter glas en hulle (die kinders) wat deur glas na die water om hulle moes kyk.”
Joubert sê die ramp het die jong mense gekonfronteer met die dood en hul eie sterflikheid. Haar ondervinding met die ouers en familie was dat hulle sterk wou wees ter wille van mekaar en daarom nie so geredelik hul gevoelens bespreek het nie.
Dr. Annemarie Novello, senior lektor in sielkunde aan die Universiteit van Johannesburg, was destyds ‘n student in maatskaplike werk. Sy het ná die ramp gaan studeer in sielkunde, veral die uitwerking van trauma. Novello het ook destyds gehelp met die berading vir slagoffers en het sewe jaar daarna vir haar proefskrif navorsing gedoen oor die uitwerking van die ramp op oorlewendes.
Sommige van die 19 oorlewendes wat aan die ondersoek deelgeneem het, het gesukkel met oorlewingskuld omdat hulle bly lewe het terwyl skoolmaats dood is. Meer algemeen was dat die oorlewendes verwante vrese ontwikkel het, soos ‘n vrees vir water en om in ‘n bus te ry, wat daardeur vererger is dat hulle ná die ramp weer met openbare vervoer moes reis. Sommige slagoffers het gesukkel om te slaap en heelwat oorlewendes het gesê hulle voel in die algemeen meer blootgestel.
0 Comments